Omstandighede

Soos genoem in my een inskrywing, Stories, het elke mens ‘n storie. ‘n Agtergrond waarvan duisende mense min af sal weet. Dit definieer ons wie ons is vandag. Omstandighede is wat ons van maak. Soos ek genoem het, kan jou omstandighede jou perspektief oor die lewe in ‘n meer positiewe rigting inslaan of dit kan jou negatief affekteer. Dit hang van mens tot mens af.

Ek sien die Supersport dokumenter, Chasing the Sun, as een groot inspirasie vir hierdie inskrywing, asook vir die lewe in die algemeen. Die storie van die springbokspan wat verlede jaar die Web Ellis Trofee omhoog gehou het in Japan kan dien as ‘n groot inspirasie vir baie Suid-Afrikaners wat voel dinge is hopeloos en dat daar geen toekoms is vir hulle nie. ‘n Span spelers, wie se omstandighede duidelik verskil van speler tot speler, het ieder en elk ‘n storie, maar tog kon hulle saamwerk om nie net die wêreldbeker te wen nie, maar Suid-Afrikaners weer saam te bring en net daardie hoop te gee.

Stories wat inspireer. Stories wat jou as mens laat besef dat dinge weer okay sal wees. Dat jy, wat ook al jou huidige omstandighede is, deur als sal kom wat na jou kant toe gegooi is. Stories wat my laat besef oor hoe dankbaar ek moet wees oor die lewe wat ek het. Stories soos met diè van Makazolo Mapimpi. Die Springbok vleuel wat die heel eerste drie gedruk het in ‘n wêreldbeker finaal in die geskiedenis van Springbokrugby, maar moes in ‘n trui gespeel het moet fotos daarop.

Die storie van die fotos op die nommers van die Springbok truie is ‘n interessante een. Die nommers het fotos van die spelers se familie en vriende op dit gehad. Makazolo Mapimpi het net fotos van homself gehad. Hy het nie familie gehad nie. Sy ouers en broer is almal oorlede. Hy het niemand gehad nie. Hierdie storie alleen het my met Chasing The Sun, in trane gehad. Dit het my baie onkant betrap en my laat besef, hoe gelukkig ek is om die dinge te hê wat sommige mense van kan droom om te hê. En dit is ‘n kans op ‘n familie en vriende wat jou deur dik en dun sal bystaan.

Want daar is mense soos Makazolo wat niks en niemand het nie. In vandag se onsekere tye is daar mense wat niemand en niks oor het om te wys nie. Mense verloor hul familie lede en vriende aan die Corona virus. Mense wat nie eens die virus het nie, verloor hul werk as besighede toemaak en hulle sonder enige inkomste los.

Met die inperking in Maart vanjaar was ek vir omtrent 40 dae by die huis en ingeperk. Nêrens om heen te gaan nie, behalwe om winkels toe te gaan vir kos. Ek was daardie geleentheid gegun om terug te keer werk toe, iets waarvan nie almal so gelukkig was nie.

Eienaars van klerefabrieke en winkels moes heel aan die begin van inperking hul besighede sluit. Van die klerefabriek eienaars het slim geraak en begin inspring om maskers te maak vir die duisende Suid-Afrikaners wat dit nodig gehad het. Dit was ook om die pot aan die kook te hou vir die werknemers sodat hulle ook ‘n inkomste kan verdien.

Een so ‘n geval was met maskers wat ek in Dis-Chem gesien het die Saterdag na Black Friday. Dit was ‘n besige Saterdagoggend in die winkels gewees met maandeinde en ek het so gou as moontlik my benodighede gevat, maar nie voordat ek vasgesteek het by die maskers nie en op iets afgekom wat my oë laat oopgaan het nie.

Die eienaar van die klerefabriek wat die maskers gemaak het, is ‘n enkelma van twee kinders. Sy het ses werknemers wat sy moet betaal sodat hulle vir hul families kan sorg. Die enigste manier om die besigheid se deure oop te hou was om hierdie maskers te maak en te verkoop, al is die klerebedryf alweer volstoom aan die gang met vlak een inperking.

Maar ongelukkig lyk dinge vandag soos ons almal nou hier sit nie goed vir die Wes-Kaap nie. Sprake van strenger beperkings is op tafels van ministers gelê en die premier van die provinsie moet ernstige besluite neem, iets wat moontlik weer klein besighede kan raak. Want die COVID-19 getalle in die Wes-Kaap alleen styg alweer skerp en dinge lyk moontlik donker vir diè wat dit nie kan bekostig om sonder werk te sit nie, nie so voor die feestyd nie.

Ons as mense koop almal basiese benodighede soos kos en klere. Ons almal val vir hierdie brands want dit sal ons gewild laat voorkom onder mense. Mense moet eerder hul broeksakke skud en plaaslike besighede ondersteun om te voorkom dat mense sonder ‘n basiese inkomste gaan sit.

Die eienaar van die klerefabriek het haar storie gedeel. So het elke liewe mens wat ‘n besigheid besit, maak nie saak hoe groot dit is nie. Die vrou se storie het my laat besef hoe belangrik dit is om plaaslike besighede te ondersteun en hoe belangrik dit is om vir eienaars te laat weet dat hulle ons ondersteuning het in hierdie swaar omstandighede.

Dit is met sulke stories wat ek gesien het die afgelope maand wat my laat besef het dat ek ophou moet kla oor dinge wat nie weer sal saakmaak oor vyf jaar nie. Ek het ‘n familie eerstens, iets waarvoor ek elke dag dankbaar is. Ek het my vriende. Ek het my werk. Ek het dit als en het nie meer as dit nodig nie.

Mense sit sonder werk. Mense sit sonder familie. Mense baklei hard om oorlewing en beide aspekte te behou. Mense baklei teen die regering om nie die land weer in te perk nie. Dit is hoe hard en moeilik die lewe is vandag. Wees dankbaar vir dit wat jy het voordat jy kla hoe hard die lewe is. Wees dankbaar vir dit als want dit kan als binne-in ‘n oogwink van jou af weggeneem word.

Storie

Elke mens het ‘n storie. Elke mens het ‘n verlede, hede en ‘n toekoms. Sommige mense se vooruitsigte is blink met als wat kan regloop in hul lewens. Dalk is daar ‘n troue oppad, of dalk is daar ‘n klein pienkvoet oppad. Of dalk het iemand daardie droomwerk wat hom of haar soveel geleenthede bied wat hy of sy sal aangryp. Stories met goeie eindes wat almal wil hê, maar nie altyd mense sal inspireer nie. Mense se omstandighede wat daartoe lei dat daardie mens uiters hard moes werk om uit te styg bo sy of haar omstandighede, dit is die stories wat mense inspireer.

Mense se storie van swaarkry en uithouvermoë is die soort stories wat my sal inspireer. Dit wys my dat maak nie saak hoe donker dinge gelyk het en hoe hulle daardie uitweg gevind het na geluk, dat mense se gees sterker is en dat mense enige iets kan oorleef. Dit is mense se wilskrag wat hulle maak wat hulle is vandag. En dit is die soort stories wat moet vertel word om ander net daardie hoop te gee.

Soos genoem, het elke mens ‘n storie. Dit hang af van mens tot mens wat hulle daarvan maak. Dit kan veroorsaak dat dit hulle definieer op ‘n baie positiewe manier, soveel so dat hulle nie toelaat dat hul omstandighede hulle onderkry om hul drome te bewaarheid nie. Of hulle kan in die slaggate trap van die samelewing en deur krake glip waar hulle nie weer sal uitkom nie.

Ongelukkig is daar vroue daar buite en om ons wat geen uitweg sien nie want hul omstandighede laat hulle dit toe om dit nie so te sien nie. Mishandelde vroue wat deur hul kêrels, verloofdes of mans waadeloos laat voel vir die samelewing. Hulle word gyselaar gehou met daardie gedagte of hulle word gyselaar gehou as hul finansieële standvastigheid van hulle af weggeneem word. Vroue word met hul lewens gedreig of met hul kinders se lewens gedreig. Die samelewing verwag ook soms dat sy aan haar huwelik moet werk met die hoop dat sy haar man kan verander in ‘n nuwe mens. Hulle sien ongelukkkig geen uitweg nie. En dit is hartseer. Baie hartseer.

Of vroue kry dit reg om te ontsnap uit die mishandelde verhouding. Hulle word sterk geondersteun deur haar geliefdes en rys bo haar omstandighede uit. Sy herstel van die traumatiese ervaring deur jare se terapie, kry haar lewe op dreef en besluit om ander vroue te inspireer met haar storie, want dit is iets wat moet gedeel word. As sy haar storie deel, voel sy soveel ligter. Vroue wat in soortgelyke omstandighede was as sy, word geïnspireer deur haar. Dit is die soort storie wat die samelewing moet hoor en dit is die soort storie wat vroue kan help om te oorleef en te laat besef dat daar wel ‘n uitweg is.

Vroue soos Vanessa Govender en Alison Botha. Vroue wat swaarkry en trauma geken het. Vroue wat vreesloos was om hul stories te deel met die hoop dat dit vroue sal help. Stories wat jou oë sal laat oopgaan en daardie hoop gee. Want jy as mens dink jy weet als van mishandeling af, maar het dit nooit eerstehands ervaar nie, totdat iemand soos Vanessa of Alison jou tot ander insigte bring.

Alison Botha se boek, I have life, het my oë laat oopgaan en my met ‘n knop in my keel gelos toe ek die wrede impak van haar verkragting en die trauma daarna gelees het. Ek kry nogsteeds absoluut koue rillings as ek net daaroor dink wat sy as ‘n vrou en mens moes deurmaak. Hoe bang sy moes gewees het dat twee moordenaars en verkragters haar lewe sou beëindig het en haar so verkrag het, dat dokters nie telling gehad het van hoeveel beserings sy gehad het nie.

Alison het wel deur ‘n uiterse traumatiese tyd gegaan, maar sy was vasberade om nie ‘n slagoffer te word vir die res van haar lewe nie, maar eerder besluit het om haar storie met mense te deel. Vroue wat deur geweld geraak word. Sy het haar traumatiese ervaring gebruik met die hoop dat dit mense sal help en daardie hoop te gee.

Vanessa Govender se boek, Beaten but not Broken, vertel sy die storie oor die mishandeling wat sy moes verduur deur haar kêrel, wat by dieselfde nuuskantoor gewerk het as wat sy gewerk het. Hoe haar kêrel haar vir omtrent vyf jaar geslaan en verkrag het. Hoe moeilik dit was vir haar om weg te stap vanuit die verhouding het, totdat sy die moed gehad het om dit te doen. Die storie is gevul met seerkry, swaarkry en oorwinning.

Ek, as ‘n mens, was geskok met beide stories gewees. Ek het ook ‘n baie sterk bewondering vir hierdie twee vroue want dit het uiters baie moed gevat om die trauma weer te beleef en hul stories te deel met die wêreld. Ek het ietsie in gemeen met hierdie twee vroue, want dit het baie moed geneem om my storie vir die heel eerste keer te deel met die wêreld, agt jaar na my traumatiese ervaring.

Ek was byna ‘n slagoffer van verkragting en moord gewees in Mei 2003 tydens ‘n huisbraak. Dit is vir my selfs moeilik om daardie woorde oor myself te uiter, 17 jaar na daardie traumatiese ervaring wat omtrent vir my twee ure gehou het, maar vir my jare daarna verstandelik ook gyselaar gehou het met ‘n soort woede en bitterheid wat my besit geneem het.

Ek was nie weer dieselfde mens nie. Dit was vanselfsprekend gewees. Die trauma het my teruggehou van wat ek kon gewees het. Ek was bang gewees weens met wat met my gebeur het. Ek het besluit om presies agt jaar later, oor hierdie hele insident te skryf en het die moed bymekaar geskraap om dit te doen. Dit was nie ‘n maklike ding om te doen nie.

Maar dit het my op ‘n pad van genesing geplaas. Ek moes weer myself plaas op 13 Mei 2003, ‘n koue maar sonnige Dinsdagoggend en weer die hel en trauma beleef, maar dit was die beste ding wat ek vir myself kon doen. Want nadat my woorde die internet getref het, het ek soveel ligter gevoel, verlos van al die bitterheid en woede wat my teruggehou het.

Dit was aan die begin nie maklik nie. Ek was bang vir die oordeel wat daarna sal kom. Maar ek het ook aan die anderkant weereens besef dat dit nie my skuld was nie. Dit was nooit my skuld om mee te begin nie. Dit was makliker om daaroor te praat. My storie, of net ‘n gedeelte daarvan, het van my die mens gemaak wie ek is vandag. En dit is om nie bang te wees om stories te deel wat vroue sal inspireer nie. En dit is om te laat gaan van al die bitterheid en woede, want dit sou van my ‘n heeltemal ander mens maak as wat ek vandag is.

Ons almal het ‘n storie. Sommige mense sal nie genoeg moed hê om dit vir die wêreld te deel nie. Hulle sal met daardie geheim rondloop omdat hulle nie anders dit kan insien nie. Hulle sal bang wees dat mense hulle sal oordeel en blameer. Die feit is, vroue moenie bang wees om hul stories te deel nie. Vroue moet opstaan en wys wie hulle is vandag en nie bang wees nie. Vroue moet ander inspireer met hul stories. Dit is al manier om alle stilte te verbreek en geraas te maak oor ‘n kwessie waaroor nie almal sal praat nie. Die stigma daaraan verbonde wat vroue terughou moet verbreek word. En dit is om hul stories te deel.

Wees Positief oor die lewe

Dinge was nie altyd positief vir my hierdie jaar nie. Daar was aspekte gewees wat my negatief geaffekteer het, soveel so dat ek gespanne was meeste van die tyd. Maar ek het met geloof en hoop hierdeur gekom en gister vir die eerste keer voel ek positief oor die lewe. Hierdie video hieronder is net ‘n baie kort boodskap van my af, al is dinge hoe uitdagend en hoe sleg, wees net positief. Hou die sunnyside op en hou aan met glimlag. Lekker Sondag verder

Glorie

Een jaar later met so baie water wat onder die brug geloop het, met al die negatiwiteit rondom my die afgelope paar maande het ek ‘n rede gehad om vir die eerste keer positief te voel. ‘n Kind vanuit Amerika het my met ‘n glimlag op my gesig laat rondloop toe hy ‘n rap liedjie gedoen het met al die letters van die alfabet.

Ek het op hierdie video op Facebook afgekom nadat Michelle Obama dit op haar Facebook blad gesit het. Dit was ook na my oefen sessie by Rondebosch Commin waar ‘n wind eintlik die laaste sê gehad het, maar waar ek ook myself uitgedaag het om teen die wind te hardloop. Hierdie oefensessies help om ‘n hele paar dinge beter te maak vir my. Dit kry my kop skoon van al die negatiwiteit. Ek los probleme op met omtrent ‘n stapsessie van 3KM en ek kry daardie geleentheid om dinge uit te pluis wat my gepla het. En dit raak ook ontslae van al die onnodige stres wat soms met als gepaardgaan.

Hierdie jaar was beslis nie ‘n feetjieverhaal vir meeste mense nie. Mense het gely as gevolg van die inperkingsperiode, mense het seergekry en swaargekry. Ons almal het op een of ander manier deur ‘n ongelooflike harde tyd gegaan wat veroorsaak het dat ons nooit weer dieselfde is as wat ons voorheen was nie. Als is onderstebo en deurmekaar, maar niks kan mense keer om terug te dink waar hulle presies een jaar gelede was nie. En hierdie keer om kan ek nie anders as om hierdie inskrywing op ‘n meer positiewe wyse te plaas nie.

Presies een jaar gelede het die Webb Ellis trofee huistoe gekom nadat Rassie Erasmus, Siya Kolisi en sy span die magtige Engeland mooi laat verstaan het dat niks in die lewe ooit verniet in mense se skote kan val nie, nie eens wêreldbeker titels nie. Jy moet eintlik bitter hard werk en selfs vir maande lank nog harder werk om iets te hê en prestasies te behaal. Dit is les nommer een.

Ek was presies voor die groot dans besig om koffie te drink en rustige musiek te luister. Musiek het altyd daardie voordeel om jou rustiger te laat voel en jou in ‘n ander wêreld te voer wat jou laat vergeet dat jy ooit probleme of uitdagings het, en dat jou senuwees ‘n bietjie knaag want jy weet jy kan onmoontlik nie uitmis op die groot finaal nie. Musiek is ook maar ‘n goeie en goedkoop terapie middel vir dit.

Ek was maar tydens die wedstryd baie op my senuwees gewees. Ek dink nie daar was een Suid-Afrikaner gewees wat kalm was nie en gewens het dat hulle kalmeer pille byderhand gehad het nie. Deur die loop van daardie week was die wêreld media nie goedgunstelik teenoor Suid-Afrika nie. Hulle het nie vir ons daardie kans gegee nie en volgens hulle sou Engeland met Eddie Jones en ag verskoon my, Owen Farrel en die res van die span, met die beker sou wegstap.

Nog ‘n feit wat teen die Springbokke getel het was dat Rassie Erasmus net ‘n skamele 18 maande tyd gehad het om ‘n goeie kwaliteit span te bou vanuit niks nie. As jy dink aan daardie vernederende nederlaag van 57 – 0 teen die All Blacks, kan jy nie mense blameer as hulle dink die bokke gaan kort val in die wêreldbeker toernooi nie.

Ek was op ‘n manier nie eintlik hoopvol dat die Bokke dit sou kon maak tydens die toernooi nie. Ons het al klaar die eerste wedstryd van die aanloop verloor, so ek het gedink dat die Springbokke net die kwarteindstryd sal behaal en dan weer uitval.

Ek was baie verbaas en meer bly toe dit nie die geval was nie. Japan was ‘n uitstekende span gewees wat almal verbaas het, en die Springbokke het hulle met hul ervaring was net een te veel vir hulle gewees. Ek neem in hierdie stadium niks weg van Japan af nie. Hulle was ‘n span wat diep onder my vel ingekruip het en ek was effens teleurgesteld dat hulle nie hul drome kon verder vat nie.

Met die wedstryd teen Wallis het ek ‘n baie nou uitslag verwag, en ek het gedink ons pad sou tot ‘n einde loop daar, maar ek was weer verkeerd en voordat ek my oë kon uitvee, was die Springbokke, wat net omtrent 18 maande dinge moes regruk in die span self, in die wêreldbeker einstryd gewees.

Tydens die eindstryd het ek glad nie geweet wat om te verwag nie. Ek onthou hierdie eindstryd soos gister want die les hieruit is, moet nooit enige iets op face value sit nie. Moet niks ‘n boek oordeel by ‘n voorkant nie. Wees altyd voorbereid op die onverwagte. Wat vir my opvallend was, is hoe Rassie en sy span afrigters feitlik die hele Suid-Afrika ‘n rat voor die oë gedraai het. En hey, dit was ‘n baie goeie gevoel daardie gewees toe die Sprinbokke die Pommies uitmekaar geskrum het ‘n hele paar keer tydens die wedstryd.

Ek was na die oorwinning, en soos met elke Suid-Afrikaner, in trane van blydskap gewees, en ‘n bietjie verligting. Met Cheslin Kolbe se drie wat die finale spyker was op die doodskis vir Engeland kon ek vir die eerste keer in omtrent 73 minute ordentlik asemhaal, want met ‘n sport soos Rugby is daar altyd ‘n skraal venster wat oopstaan vir ‘n opposisie wat agter is, om op te maak vir die agterstand. Maar nie hierdie keer om nie. Ek was op daardie dag nog nooit so trots gewees soos wat ek gewees het nie.

Wat my tot hier bring. Want presies ‘n week na die groot oorwinning het ‘n uitstekende video op YouTube sy verskyning gemaak en Suid-Afrikaners van vooraf geïnspireer. Ek het geswel van pure trots toe ek hierdie video sien wat uitstekend opgesom was. Ja, ek was in trane gewees maar ek het nie omgegee nie. Dit was ‘n roerende beskrywing oor die Springbokke se pad na oorwinning gewees. Maar hierdie video kan ook toegepas word in die lesse wat ons elke dag in die lewe leer.

Ek sal hierdie video kyk wanneer ek nie juis ‘n baie goeie dag agter die rug het nie. Dit laat my net weer besef dat als weer reg sal wees in die lewe. Of ek sal weer hierdie video kyk wanneer het weer herinner wil word aan die glorieryke oomblikke van Saterdag, 2 November 2019. Of ek sal hierdie video kyk wanneer ek gemotiveerd voel om harder te werk.

As ek lesse hieruit kan leer, is dit dat nie als so sleg kan wees wat die lewe bring nie. As jy deur ‘n moeilike tyd gaan, of dit nou by die huis is of by die werk, koester dan die goeie tye, die gelukkiger tye of die lawwe tye wat jy saam met jou vriende gehad het. Dan bring die lewe sy ligte kant ook.

Ek het geleer met hierdie video, dat jy moet altyd geloof hê in goeie mense en in jouself ook. Jyy moet altyd glo in jouself, ten spyte van teenstand wat jy ontvang. Net jy kan die regkry. Jy moet altyd glo in jouself en geloof hê in jouself, al is die uitdagings hoe moeilik en hoe hard, want met genoeg geloof sal jy dit kan oorwin.

En met wat verlede jaar gebeur het, moet jy dit nie toelaat dat negatiwiteit jou onderkry of jou pad na glorie ontspoor nie. Jy kan als vermag as wat jy jouself dit gaan toelaat. Vat dit net van daardie rap liedjie af en vat dit ook van die Springbokspan af wat baie ver gekom het om daardie oorwinning te behaal. Die les is hier Moenie toelaat dat jou omstandighede jou toekoms en drome ontspoor nie.

Want dit is waar die glorie lê. In harde werk, vasberadenheid en die feit dat jy geensins moet opgee nie. Net jy kan dit regkry.

Dramakoning

As jy dink aan ‘n dramakoningin, dink jy aan ‘n jong meisie of dame wat die kleinste ding onder die son onnodiglik sal opblaas en ‘n baie groot drama daarvan maak. Ek dink soms net aan ‘n tipiese Hollywood tiener komedie of ‘n dramareeks waar die kern van so ‘n storie om ‘n jong, tienermeisie draai. ‘n Regte skinderbek wat mense se lewens maklik sal versuur omdat haar lewe nie vervullend genoeg is nie. Mean Girls en Gossip Girl, waaroor ek al geskryf het, is twee uitstekende voorbeelde hiervan.

In ‘n tipiese tiener komedie of drama sal jy daardie hoofkarakter kry wat dink die wêreld moet om haar draai of anders kom haar wêreld op ‘n einde. Sy is wat ek eintlik perfek sal beskryf, jou “alpha female” of beter beskrywend “the Queen Bee”, iets wat ek gesien het in Gossip Girl ek dink. Sy is natuurlik baie populêr. Die voetbalspan swymel om haar en die onpopulêre meisies beny haar openlik en sal selfs ‘n paar skindersessies agter die rug hê oor haar.

Dan maak ‘n nuwe student haar opwagting en dinge begin swaai. Hierdie nuwe student is ‘n rooikop, is ‘n atleet wat in die skool se atletiekspan is, het haar neus gedurig in ‘n boek en droom daarvan om ‘n skrywer te word. Sy is nie presies lelik nie, maar word beskou as ‘n swart skaap in die hele skool. Die koningin raak jaloers op haar en begin stories versprei oor haar. Sy saai onmin en drama omdat sy bedreig voel deur die rooikop wat haar gebied oortree het.

Sy leef op drama want haar lewe, soos dit geken is met al haar rykdom, kredietkaarte, ‘n klerekas vol klere en skoene van die beste ontwerpers en haar kêrel wat op die voetbalspan is, beteken basies niks. Sy teer op drama want haar lewe is ongelukkig ook daarby nie so perfek nie siende dat haar ouers besig is om deur ‘n baie lelike egskeiding te gaan. Sy leef op drama want dit besorg vir haar die opwinding en dit draai al die negatiewe aandag wat sy kry, weg van haar af en op haar teiken.

Dit is nou ‘n beskrywing wat ek hier gegee het van ‘n tipiese Hollywood komedie. Die koningin en die rooikop in ‘n hoërskool iewers in Amerika wat teen mekaar staan vir eer en respek. Hierdie storie sal dalk verkoop by teaters omdat dit baie goeie vermaak bied, maar hierdie scenario is ook iets wat ongelukkig sal afspeel in die werklike lewe ooit. ‘n Doel van ‘n rolprent is om te ontnap van wat die realiteite van die lewe bied, maar tog word sommige plotlines, soos wat elke draaiboek dit sal beskryf, geskoei op werklike situasies.  En wat meer verbasend is, is hoe volwassenes daartoe in staat is om drama te veroorsaak wanneer dit uiters onnodig was in die eerste plek.

In my opsig kan volwassenes soveel erger raak as ‘n tiener wanneer dit kom by drama veroorsaak. Hulle saai so baie onmin om hul tekortkominge vir die wêreld weg te steek. Hulle veroorsaak onnodige drama oor die kleinste, onbelangrikste ding omdat hul lewens dalk so vervelig is soos ‘n Amerikaanse sepie wat vir maande lank op dieselfde kitaarsnaar tokkel.

Mense maak drama want dit vervul hulle op ‘n baie negatiewe manier, maar hulle gaan daarmee want daar is niks anders om op te gaan nie. Hulle verdraai feite en woorde want hulle probeer so hard om onskuldige mense sleg te laat lyk. Hulle projekteer want dit laat hulle goed lyk in die oë van miljoene mense. Donald Trump kan my maklik herinner as ‘n kastige leier wat daarvan hou om te projekteer en soms vind ek sy tantrums met hoofletters op Twitter uiters irriterend en kleinlik, en baie meer kinderagtig as ‘n 5-jarige kind in ‘n lekkergoed winkel.

Dramakonings is juis die mense wat my soms so irriteer dat ek soms ook kan afskakel en fokus op meer belangriker aspekte van die lewe. Mense wat so tekere gaan oor kleinlike dinge sal my ook soms irriteer, en laat verpes met ‘n effense passie, want dan speel dit in my kop af dat daar mense is op hierdie planeet wat hul laaste asems uitgeblaas het terwyl hierdie einste mens so tekere gegaan het omdat daar nie suiker was in die suikerblik nie. Dit is duidelik iets wat sal oorwaai. Iets wat lank sal neem om net oor te waai, is iemand wat nooit weer sy geliefde sal sien nie of vashou nie. Dink so daaraan voordat julle so tekere gaan oor daardie leë suikerblik.

Mense veroorsaak drama deur om blatant ongeskik op te tree. Dan veroorsaak nog ‘n groter drama as hulle nie daarvan hou as hulle die medisyne ontvang wat hulle so graag uitdeel onder die mense nie. Mense sien iets uiters negatiefs in ‘n paar positiewe woorde en veroorsaak drama op so ‘n manier. Die beste reaksie wat jy kan gee, is om daardie persoon se negatiwiteit uit te sny. En jouself sekondes later ‘n klop op die skouer te gee en opstaan vir jouself.

Want daar was daardie hoofstukke in my lewe, en meer spesifieks hierdie jaar waar ek moes noodgedwonge ‘n streep trek en opstaan vir myself. Ek moes mense laat verstaan dat ek absoluut geen rassisme gaan duld nie want almal is geregtig op ‘n goeie lewe. Ek moes mense laat verstaan dat hulle nie daardie reg het om hul frustrasies op my uit te haal nie, maak nie saak hoe sleg hul dag was nie. Met ‘n tweet een Sondagoggend na ‘n insident, het ek sonder enige drama, my standpunt ingeneem en geweier om met enige disrespek behandel te word. Ek het met hierdie einste tweet, my mag en my self-respek teruggeneem en daadwerklik opgestaan vir myself.

Met so ‘n paar insidente, veral onlangs, het ek besef hoe maklik dit kan wees om net weg te stap en ook op hierdie meer positiewe manier, op te staan vir myself. Dit het flippen goed gevoel om standpunt in te neem en ek sal nie weer skroom om dit weer te doen nie. Dit is ook om soos ‘n baas jou kop omhoog te hou en positief te bly as suurknolle probeer om jou lewe te versuur met hul negatiwiteit. Dit sal ook wees om nie hierdie soort konings se drama met ‘n negatiewe reaksie te voed nie. Dit is beslis om vir hulle absoluut niks te gee, net ‘n middelvinger deur middel van ‘n blokfunksie en ‘n paar sterk, inspirerende woorde van jou kant af.

Die beste ding wat jy vir jouself kan doen is om weg te stap van mense wat drama veroorsaak. Om mense ook te laat besef dat daar baie erger dinge is in die lewe as iets heeltemal kleinlik. Om mense te laat besef dat jy nie hier is om hul drama te vermaak met ‘n reaksie van jou eie nie.

Dit is ook om daardie mense te laat besef dat jy maarnet ‘n mens is met gevoelens en emosies. Dit is ook om mense te laat besef dat jy glad nie van jou standpunt sal laat afwyk nie, maak nie saak hoeveel beledigings jou kant toe gegooi is nie. Hulle kan liefs maar hutstekens maak met die woordjie voetsek, moenie laat hierdie woordjie jou van stryk afbring nie, of enige ander woordjie waarmee hulle vorendag sal kom nie. Dit is ook om op jou beskaaflike manier mense laat besef dat hul skinderstories en leuens nie die gewenste reaksie gaan kry nie.

Jy kan dit als doen want skinderbekke, leuenaars en dramakonings is nie jou tyd werd nie. So ver dit jou aangaan, kan hulle nogsteeds vloermoere op sosiale media gooi, leuens opmaak soos wat die lewe aanbeweeg en ‘n boks duur Belgiese sjokolades verorber, net solank hulle dit nie jou probleem maak nie.

Want daar is beslis elke liewe dag van die lewe soveel meer om voor te leef. Baie positiwiteit. Leef jou lewe ten volle en skop alle dramakonings en skinderbekke onder hul agterente. Loop weg soos ‘n baas.

Aandkoerant

In die vroeë 2000’s was ek op die einde van my tienerjare en aan die begin van volwassenheid. Die oorgang daarvan was maar gevul met onsekerheid en afwagting. Met die tree na volwassenheid moes ek harde lesse leer en nog harder afkom aarde toe, want die silver lepel was nie meer daar om te sorg dat dinge op my skoot val nie. Ek moes werk as ek iets wou gehad het. Dit kom met elke mens. Veranderinge is nie vermybaar nie. Dit is ‘n pad wat elke liewe mens stap.

Daardie jare was gevul met terrorisme en ‘n oorloë in Afghanistan en Iraq. Dawson’s Creek was op elke tienermeisie se lippe en Marlena was besete deur ‘n duiwel van ‘n soort op Days of our Lives. The Backstreet Boys en N*SYNC, Britney en Christina het die musiekwêreld oorheers en Doc Martins was op elke vrou en tiener se kooplysie gewees, behalwe nou myne natuurlik.

Dit was ook die jare waar realiteits TV die wêreld aan die praat gehad het met reekse soos Survivor, Amazing Race en The Simple Life met Paris Hilton en Nicole Richie. Dit was die jaar waar mense vir 39 dae lank op ‘n eiland was met min kos en nog minder hulpbronne, besig om mekaar uit te oorlê. Daardie reeks is tot vandag toe op ons skerms en vermaak miljoene mense.

Ek het tot in met verlede jaar een reeks van Survivor gekyk. Met hierdie reeks was daar baie drama soos dit met elke reeks sekerlik gegaan het. Hierdie reeks het gekom nadat ek vir baie jare lank ophou gekyk het en net vir ‘n paar naweke tot my beskikking, weer begin kyk het, maar weer opgehou het. Ek het voor hierdie reeks tot in met reeks 10 gekyk voordat SABC dit sterk oorweeg het dat ons Suid-Afrikaners vir hul agterlosigheid moes sorg en dit is deur om TV Lisensies uit te neem vir reekse wat ons op ons tablette kyk. Dit was ook die laaste keer dat ek my oë gelê het op ‘n SABC kanaal so hulle kan daardie probeerslag op hul maag skryf as hulle enige iets uit my uit gaan kry, maar dit is vir nog ‘n inskrywing.

Terug na Survivor. Ek het belangstelling in die reeks verloor, veral in alle realiteits reekse. Vir mense wat daaraan deelneem is dit ‘n 15-seconds-to-fame scenario en ‘n kans op ‘n pot goud aan die einde van die reënboog. Dit is voor die handliggend. in reekse soos Survivor kry jy jou gereelde held, heldin of skurk. Is dit ook nie dalk voor die hand liggend dat vervaardigers van sulke reekse die draad van die storie so bewimpel om te sorg vir drama en hoë kykertalle?

Ek dink aan ‘n paar deelnemers van Survivor deur die jare heen. Deelnemers soos Boston Rob en Parvati Shallow was as skurke getoonbeeld, maar as die reeks verby is en die eiland heel verlate, is hulle net gewone mense. ‘n Deelnemer met die naam van Alecia Holden het aan reeks 16 deelgeneem. Sy het haar spanmaats geïrriteer en kon niks regkry nie, maar dink ook so daaraan. Was dit nie die vervaardigers wat dit so bewimpel het om dit te laat lyk asof sy almal irriteer en net ‘n las is nie?

Ek het empatie met iemand soos Alecia Holden. Eers was sy getoonbeeld as iemand wat nooit daar op die eiland moes gewees het in die eerste plek nie. Sy het nooit ingepas nie wat hartseer is, want sy het nooit eintlik ‘n ordentlike kans gehad nie.

Met wat ek beskryf hier werk ook so wanneer jy by die huis is, met ‘n doodgewone werk en ‘n normale inkomste stroom. Tog voel jy asof jy op ‘n eiland is saam met mense besig om te oorleef. Dit gebeur in ‘n wêreld met sy uitdagings waar mense iets so erg kan bewimpel dat ander mense jou as iets sien wat jy nooit is nie.

En so iets gebeur baie in die media. Dus waarom die term fop nuus, of beter daartoe bekend, fake news, deesdae so maklik is om te gebruik en ware feite die nekslag toegedien word in ‘n aandkoerant. Koerante kan dalk vir jou die nuutste, varste nuus bring wat die vorige dag gebeur het, of huidelik gebeur met koue, harde feite, maar dan kry jy daardie koerant wat vir jou die feite sal verdraai en bewimpel dat mense dit vir soetkoek sal opvreet. Feite word verdraai op ‘n uiterse slim manier dat ‘n prentjie geskets word oor mense wat heeltemal vals is.

Soos ek genoem het, ‘n aandkoerant, sal die ware nuusgebeurtenisse vir jou bring op wit en swart met ‘n swart en wit foto daarby soms. ‘n Joernalis wat sy sout werd is, bring vir jou nuus presies soos dit is. ‘n Ponie koerant of ‘n skinder tydskrif, sal feite verdraai of stories opmaak wat nie waar is nie net om daardie verkoopsyfers die hoogte te laat inskiet. Hulle sê altyd moenie altyd dinge glo wat op die internet verskyn nie. Moet ook nie altyd daardie dinge glo wat in ‘n skinder tydskrif of ponie koerant verskyn nie.

Want hierdie vraag het al by my opgekom. Dit is hoe ver iemand sal gaan om ‘n ander se reputasie of karakter skade aan te doen? Dit loop hand aan hand met wat ek hier sopas beskryf het en die scenarios wat ek hier sopas geskets het. Dit is om leuens oor ‘n onskuldige mens te skep en sy of haar lewe te basies te ruineer.

Want ‘n baie goeie skilder of skets kunstenaar sal ‘n uitstekende skets maak met al die detail op die regte plekke. Hy of sy maak absoluut seker dat die fynste detail altyd korrek is. ‘n Vrot kunstenaar sal iemand wees wie se sketse nie na die ware jakob lyk nie en als sy duidelik uit plek uit lyk en dinge insit wat nooit daar was nie. Dit is amper dieselfde soos met ‘n skrywer wat sy sout werd is en ‘n skrywer wat daarop uit is om iemand se karakter grootskaalse skade aan te rig.

Wat dalk ‘n goeie ding is dat ek hierdie vergelykings gemaak het in hierdie inskrywing. Mense sien my aangesig tot aangesig en skets daardie prentjie as iemand wat lyk asof ek nie genoeg kos in die huis het nie. Dit is iets wat eintlik seergemaak het een keer toe ‘n man my in die openbaar my beledig het oor my gewig. Mense skets my soms as buierig as ek net eintlik ongelooflik baie moeg is.

Mense sien my woorde en sien dadelik dinge wat nie daar is nie. Daar sal net daardie iemand wees wat my byvoorbeeld sal skets as iemand wat minder omgee vir my eie mense en meer omgee vir mense van ander rasse. Alle rasse maak vir my saak en ek tel almal van hulle as my mense. Niks meer en niks minder nie.

Mense sal my sien en dadelik politieke konnektasies ook skep wat eintlik uiters onnodig is want elke dag kom dit by my op of dit ooit die moeite werd is om oor politiek te praat terwyl dinge nou in Suid-Afrika baie teer is. Mense sien my elke dag en skets hierdie prentjie dat ek elke dag ‘n slab Cadbury sjokolade in my hand het. Ek kan hulle eintlik in daardie area maklik verkeerd bewys, soos met die politieke konnektasies wat daardie mense op my sal trek op ‘n baie goeie dag.

As dit nie so ernstig was dat mense se vryetyd bestaan uit skinder, liegstories en wanpersepsies nie, dan was dit amper lagwekkend. Soos genoem, mense skets my sonder om daardie poging aan te wend om my as mens beter te leer ken.

En gelukkig is dit hulle probleem en nie myne nie, Want my familie en vriende ken my baie beter as hierdie sogenaamde skilders, vervaardigers en skinderbek joernaliste wat dinge bewimpel om mense in ‘n slegte lig te stel. My familie en vriende ken my baie beter as ‘n skinderbek wat daartoe uit is om my lewe te versuur, punt.

Ek voel wel soms soos ‘n hoofberig in ‘n ponie koerant wat net uit onwaarhede sal bestaan, maar ek kan altyd vals berigte ignoreer. Ek voel soms soos Alecia Holden wat nooit inpas in ‘n kompetisie nie, maar ek pas in die regte plekke in, en dit is by my familie en vriende. Die waarheid oor myself bring vertroosting waar geen vervaardiger of joernalis dit kan vertwis nie. Dit is omtrent al wat saakmaak in die lewe.

Kaart

“Ek is grootgemaak met die siening dat ons almal gelyk geskape is deur God die Almagtige.” Dit is waarmee ek my eerste sin van die inskrywing getiteld, Buite die Lyne, mee begin het wat ek op 1 Desember 2018 geskryf het. Daardie sin was geskryf nog lank voordat ons onsself in hierdie onsekere tye bevind het. Dinge was in daardie tyd meer normaal gewees. Daardie sin was geskryf nadat ek my gewone Saterdag dinge gedoen het en na ‘n gesprek wat ek gehad het.

In daardie tyd het ek uitgesein na ‘n welverdiende vakansie. Ek het uitgesien na Kersfees, my niggie se eerste verjaarsdag, na ‘n baie rustige tyd saam met my familie en wat die nuwe jaar sou vir my bring. Daardie sin was ook geskryf tydens twee van die belangrikste tye wat jaarliks plaasvind. Dit was op Wêreld Vigs en dit was geskryf tydens 16 Dae van Aktivisme van geweld teen vroue en kinders. Dit is ‘n diepgaande keuse van woorde wat reflekteer oor wat in daardie tydperk gebeur.

Baie dinge het verander van daardie tyd af tot vandag toe. Ons lewe in die tye waar maskers ons beskerm teen virusse, maar ook ‘n hele paar emosies kan verberg en vir mense wegsteek oor wat presies ons dink van sekere sosiale kwessies wat ons as Suid-Afrikaners raak op ‘n daaglikse basis. Of mense glo nie in maskers nie en eerder wil glo dat hulle nooit geraak sal word deur ‘n virus nie, of enige ander kwessie wat elke Suid-Afrikaner sal pla nie.

Ons lewe in tye waar ons ons hande meer as gereeld moet was om ons teen siektes en kieme te beskerm, maar ons lewe ook in tye was mense hul hande in pure onskuld sanitize en ander blameer vir sy of haar foute. Ek verwys miskien meer spesifiek dalk na ‘n sogenaamde wêreldleier wat ‘n eerste rangse land heers. Hierdie “sogenaamde” leier het ook miskien geen bekendstelling nodig nie. Dit is voor die hand liggend na wie ek in hierdie inskrywing verwys.

Baie dinge het verander vandat daardie sin die lig gesien het in 2018. Baie bewegings is op die been gebring. Bewegings soos Black Lives Matter, White Lives Matter, All Lives Matter en Farmers Lives matter het die lig gesien, nie net in die wêreld daar buite nie, maar ook op sosiale media platforms. Ieder en elke mens het ‘n mening of twee of drie gehad oor hierdie kwessies. Elke mens het saamgestem, saamgestaan, saam baklei, teen mekaar baklei, mekaar gevloek en geskel, en neergesien op mense. Ons lewe in hierdie tye waar elke mens dink hy of sy is reg, en dalk is hulle reg. Maar op die ou einde is hulle ook nie reg nie.

Ek leef in ‘n tyd waar ek die laaste 20 maande of so baie swaarkry beleef het. Ek het swaarkry gesien. Ek was ‘n slagoffer van misdaad en ‘n slagoffer van ‘n regstelsel wat mense in die steek gelaat het, ek moes ‘n COVID-19 toets laat doen wat genadiglik negatief was, maar nogsteeds my met die kommer gelos het wat sou van my geliefdes word sou ek positief getoets was. Ek het my kommernisse oor my eie toekoms gehad tydens die harde inperkingsperiode. Ek het vriende verloor, ek het iemand aan kanker afgestaan. My lewe was alles behalwe baie maklik gewees, maar deur dit als het ek oorleef met die ondersteuning van vriende en familie.

Laat ek nou hierdie nuwe paragraaf effens verander na die onderwerp van mense daarbuite en watter swaarkry hulle tans beleef. Want in hierdie jaar alleen, kry mense nog swaarder en kry mense nog seerder. Mense is werkloos. Mense sterf. Mense is siek. Mense kry finansieël swaar. Mense wag in lang lyne vir ‘n SASSA uitbetalings. Mense wag in lang lyne om hul pasgebore baba’s geregistreer te kry by binnelandse sake. Mense wag in lang lyne vroegoggend om hul motor lisensies hernu te kry sodat hulle van punt A tot punt B kan ry elke dag. Mense het geliefdes verloor. Mense is hartseer.

Mense word vermoor in Suid-Afrika. Elke dag. Vroue word verkrag en vermoor. Vroue word wreed vermoor. Vroue en kinders word verkrag en vermoor. Mense word vasgevang in die bende geweld in die Kaapse Vlakte waar baie min oplossings gevind is om die probleem op te los. Kinders word wreed vermoor as gevolg van die bende geweld. Ieder en elke mens ly. Ieder en elke ras en kultuur word deur die wreedheid van misdaad geraak. In hierdie geval is daar geensins veronderstel om vergelykings te maak nie. Ons almal word geraak hierdeur.

Dit bring my tot hierdie volgende punt wat ek graag wil maak. Een spesifieke toneel in die rolprent, The Grace Card, wat makliker verkrygbaar sal wees in Cum Books as in ‘n Musica winkel wat nou deesdae skaarser is as Marmite op ‘n winkelrak in ons area, het by my gebly sedert ‘n paar jaar vandat ek die rolprent vir die eerste keer gesien het.

In die toneel vra ‘n jong Afrika-Amerikaanse dogtertjie haar ma hoekom haar pa ‘n nier skenk vir ‘n jong, wit Amerikaanse tienerseun van ‘n polisieman. Die ma se antwoord was net so diepgaande soos die eerste woorde van hierdie inskrywing. En dit is dat ons almal presies dieselfde is aan die binnekant van ons. Ons is almal toegeken met dieselfde belangrikste organe wat ons almal aan die lewe hou. Ons is almal gelyk soos met die persoon wat elke dag langs jou in die bus sal sit en miskien boek lees. Of ‘n Netflix reeks volg op sy foon.

Baie dinge het in 2020 verander. Ek hoef dit nie weer te sê nie. Daar is wel dae dat ek wens hierdie jaar kan soms sy ry kry, maar ek nogsteeds die “terme en voorwaardes” wil lees van 2021, met al die fynskrif daarby. Dit is ongewenste tye vir ieder en elkeeen van ons. En as ons een groot tydmasjien gehad het om die tyd terug te draai en 2020 van vooraf te begin, dan het ons almal dit wraggies gedoen ook. Maar ongelukkig kan ons nie….

Want dit is nou die kaart wat aan ons almal uitgedeel is. Dit is die kaart wat God vir ons almal gegee het om te speel. Elke mens het daardie geleentheid om die kaart te speel op die beste denkbare manier moontlik, maar nie almal speel die kaart soos wat die volgende man dit sal speel nie. Hulle verkies om hul eie kaarte in hierdie opsig te speel en dit is hartseer om te sien dat mense hierdie kaart sal speel wat die mensdom so maklik kan verdeel sonder om ‘n oog te knip.

Nog ‘n bykomende kaart wat mense ongelukkig sal speel is hoe mense mekaar sal behandel wanneer die geleentheid daar is. Mense sal neersien op ander, op ander vloek en skel, en mense minderwarig sal laat voel op ‘n baie slegte dag. Ek kan ongelukkig nie die term “op ‘n goeie dag’ in hierdie opsig gebruik nie want niks hiervan is goed as mense nie kan saamstaan en saam baklei nie.

Soos ek vroeër genoem het. Elke mens het ‘n mening oor ‘n beweging. Elke mens glo vas dat hul lewens meer van belang is as die ander. Somtyds sal nie een mens dit ooit besef dat hulle almal aan een ras behoort nie. En dit is die menslike ras. Hulle verskil net aan die uiterlike en geen mens verdien om heeltyd hieroor geoordeel te word nie.

Ek is iemand wat haarself eers as ‘n Suid-Afrikaner beskou voor enige iets anders. Want ek is iemand wat daaraan glo dat ek behoort. Ek is iemand wat verjeug raak as ek lees oor ‘n jong vroutjie wat haar eie boerdery begin om die pot aan die kook te hou. Dit inspireer jong meisies om dieselfde pad te loop as wat sy het. Dit maak my bly as ‘n jong afrigter jong tieners in ons buurt leer sokker speel. Ek is iemand wat bly raak as jong mense floreer om ver te kom in die lewe, ongeag hul omstandighede.

En dit is waar een ding glad nie verander het nie. Dit is waar dit als in hierdie inskrywing begin het. Dit is my kaart wat ek speel in hierdie inskrywing. Ieder en elke Suid-Afrikaner is gelyk geskape deur God. Niemand is beter as die persoon wat niks het om te gee nie. Ons almal verdien liefde. Ons almal verdien respek. Ons almal verskil aan die uiterlike, maar ons almal is presies dieselfde aan die binnekant.

Die wêreld sal beslis ‘n beter plek gewees het as daardie sogenaamde leiers en sogenaamde aktiviste nie die ras kaart onder ons oë geswaai het nie om ander skuldig te laat voel oor hul herkoms nie. As hulle net kon die medemenslikheid kaart van liefde en respek speel, dan was ons almal in hierdie tye van onsekerheid op ‘n baie beter plek.

Vryheid

In my tienerjare as ‘n skaam, soms rebelse Afrikaanse sprekende jong meisie het my Engelse onderwyser ons ‘n rolprent met die naam van Dead Poet Society gewys. Die rolprent met Robin Williams in die hoofrol, het die storie vertel van ‘n Engelse onderwyser wat aangestel is om skool te gee vir studente en sodoende hulle ook aanmoedig om hul lewens ten volle te leef en paaie te neem wat die minste gestap is.

Dead Poet Society het daardie merk op my gelos wat tot vandag toe my inspireer om my lewe te leef sonder verskonings en om net myself te wees in ‘n wêreld waar mense nie altyd gelukkig sal wees om jou te sien en te ervaar soos wat jy is nie. Ek het hierdie rolprent een middag in ‘n Musica in die Kaapstadste middestad gekoop en ek kyk hom elke jaar in my vakansie. Die rolprent gee ‘n baie sterk boodskap uit dat jy altyd jouself moet wees en jou drome laat waar word, ten spyte van al die teenstand wat jy sal kry op die ou einde. Hierdie rolprent sal my altyd herinner aan my Engelse onderwyser wat vir ons as studente baie lewenslesse geleer het tydens ons Hoërskool loopbaan.

Die jong seuns het Meneer Keating se raad gevolg. Almal wat sy klasse bygewoon het sou want die lewe is hopeloos te kort om jouself te bekommer oor wat mense werklik van jou dink en hoe jy jouself uitdruk aan die mense. Knox Overstreet het die meisie van sy drome ontmoet by ‘n familie ete en haar oortuig om saam met hom uit te gaan. Neil Perry het sy droom na gestreef om ‘n verhoogstuk te doen, ten spyte van sy streng Pa se drome dat hy ‘n dokter moet word. Twee verskillende stories met twee eindes, een gelukkig en een baie tragies.

Soms wonder ek of vryheid van uitdrukking en spraak ooit die moeite werd is om voor te leef. Ek wonder dit nou deesdae meer soos met wat onlangs in die nuus gebeur het. Soms wonder ek of dit ooit die moeite werd is om vir die wêreld te wys wie presies ek is. Ek het dit al gedoen en ek is trots op wie ek is vandag. Ongelukkig sien mense dit nie altyd so nie en sal verkeerd van jou dink. Gelukkig vir my is daar genoeg mense wat my baie goed ken om die teendeel te bewys. En soms wonder ek of dit ooit beter sal wees om net stil te bly en weg te steek wie ek werklik is vandag.

Is dit ooit die moeite werd om my mening te lig op sosiale media en in hierdie blog oor onderwerpe en kwessies wat my nou pla soos wat dit byna elke Suid-Afrikaner pla sonder dat mense oorreageer en soms verkeerde aannames maak oor jou as mens? Is dit ooit die moeite werd om dalk, net dalk die knie te buig teen rassisme, of op te staan teen plaasaanvalle sonder dat mense jou karakter sal afbreek in die virtuele wêreld.

Hierdie vrae het nie eintlik maklik gekom vir my as mens nie, maar dit is iets wat ek vir myself moes vra. Vryheid van spraak. Vryheid van uitdrukking. Wat presies het dit vir my die afgelope paar jaar beteken? Wat het dit vir my beteken op sosiale media, waar vryheid van spraak en uitdrukking onder een groot vergrootglas geplaas word deur mense, net om daarna uitmekaar geskeur te word, afgekraak te word en gerapporteeer word aan die sosiale media platforms net omdat jy te sterk voorgekom het volgens mense.

Ek het die afgelope paar maande dit meer gevind waar ek moes mense blok omdat ek nie volgens hulle pype gedans het nie. Omdat ek myself as uniek, anders en nie soos hulle uitgedruk het nie. Ek sal gewoonlik sulke mense se snedige aanmerkings oorgesien het of net geïgnoreer het maar wanneer dit kom by my karakter af te kraak en my sonder ‘n greintjie respek te behandel, dan moet ek ongelukkig die streep trek.

Ek moes onlangs opstaan vir myself juis omdat ek geweier het om met disrespek behandel te word en standpunt inneem. Hierdie situasie werk ook in die lewe oor die algemeen. Daar is dae dat ek soms stillerig is op sosiale media. Waar ek nie veel het om te sê nie. Of dat ek eenvoudiglik gesproke nie tyd het vir sosiale media nie. Daar is dae waar ek dinge wil deel. Positief en negatief. Goed en sleg. Ek wil dit deel. Dit hang ook af wat oor my pad sal kom wat ‘n reaksie uit my uit sal ontlok.

Om baie eerlik te wees, ek het myself baie kere ingehou en my woorde gesluk. Omdat ek gevoel het dat dit net makliker vir my sal wees om nie op mense se tone te trap of hul watte afhaal met die waarheid nie. Ek het myself en my woord teruggehou want soms was dit eenvoudiglik nie die moeite werd om ‘n reaksie te gee nie. Soms het ek geen ander keuse gehad om my mening te lig nie. En nou meer onlangs moes ek opstaan vir myself want ek het meer as genoeg selfrespek om toe te laat dat mense bo-oor my sal trap sonder dat hulle nie my werklik ken nie.

Soos wat ek gesê het, het ek gewonder oor hierdie vryheid van uitdrukking juis omdat mense nie altyd gelukkig sal wees oor hoe jy jouself sal uitdruk nie. Op ‘n manier is dit nie altyd ‘n slegte ding nie. Ek sal myself uitdruk op ‘n uiterse positiewe manier met mooi, inspirerende woorde en positiewe motiverende aanhalings. Ongelukkig sal daar mense wees wat iets sal sien wat nie daar is nie. Al wat gaan help is om positief te bly oor die lewe en negatiewe mense uit te sny wat nie ‘n waardevolle bydrae kan lewer oor hoe jy jouself sien nie. Dit is al.

‘n Goeie voorbeeld hiervan sal wees is as jy positiewe woorde van ‘n wêreldbekende aanbieder deel op jou sosiale media tydlyn, maar ongelukkig sal daar net daardie iemand wees wat ‘n negatiewe en rassistiese konnektasie sal maak en probeer om dit jou probleem te maak. Met genade het ek die persoon wat dit met my probeer doen het, geblok. Ongelukkig was ek by my familie gewees toe hierdie voorval plaasgevind het. Ek het net daar besluit dat ‘n direkte reaksie op die persoon se rassisme nie die moeite werd sal wees om my dag saam met my familie te versuur nie.

Soos met Neil Perry se streng Pa, sal daar mense wees wat jou sal afbreek met woorde. Hulle sal jou waardeloos voel. Hulle sal probeer om jou te laat afsien van wie jy werklik is vandag. Soos met John Keating, moet jy net aanhou om jou drome na te leef en vir die wêreld te wys wie jy werklik is vandag. Jy moet jou lewe sonder enige verskonings leef. Want as jy gedurig verskonings maak oor jou keuses en jou optredes, dan wat sal die punt wees om te wys wie jy werklik is vandag.

Die les hieruit is dat jy jouself op goeie en slegte tye nooit moet terughou oor wie jy werklik is vandag nie. Soms moet die wêreld dit sien om te weet wat jy vir hulle kan bied. Die regte mense sal lief wees vir jou nes jy is. Jaag jou drome en leef jou drome. Wees jouself en leef jou lewe sonder enige verskonings.

Teenstand

Vandag sit ek hier en ek kan nie help as om te wonder hoe ek my woorde vandag gaan uitspreek nie. Dit is ook amper die einde van vrouemaand, maar om vroue te herinner hoe spesiaal hulle is en wat hulle vir ons land beteken hou nie op by 31 Augustus nie. Dit moet elke dag gebeur want elke lewe is kosbaar. Vroue se lewens is net so kosbaar. Vroue werk hard om ‘n verskil te maak. Vroue in vandag se tyd het soveel meer keuses. Suid-Afrikaanse vroue baklei harder vir dit waarin hulle glo. Hulle is moeders, susters, grootouers, tannies, niggies, vriendinne en sielsgenote. Ons is die sterk vroue wat nie skroom om ‘n verskil te maak in mense se lewens nie. Ek begin hierdie inskrywing op ‘n eerder positiewe noot, maar dit is nie altyd so positief nie.

Ek het vanoggend oppad Rondebosch Common in die Kaap, waar ek so nou en dan my virtuele parkrun doen, verby die Clareinch Poskantoor in Claremont gery. Een jaar gelede was Uyinene “Nene” Mrwetyana verkrag en vermoor gewees in daardie gebou. Net buitekant die gebou was daar blomme en plakkate neergelê ter herinnering aan die jong student wat haar lewe op ‘n baie wrede wyse verloor het. “Stop GBV” het op ‘n rooi plakkaat gestaan, simbolies van hoe vrouens van Suid-Afrika se bloed op so baie moordenaars se hande is.

Uyinene

Ek het vanoggend my oefen sessie gedoen met ‘n groot gesukkel. Ek het vooraf in hierdie week net twee keer geoefen so met hierdie sessie van maarnet 5KM kon ek dit voel. Ek was liggaamlik moeg. Die goue reël van ‘n moeilike oefensessie is om nie maklik op te gee nie. Of beter gestel, moenie na jou liggaam luister nie. Jou liggaam maak jou negatiewe dinge wys as jy moeg is. Ek moes myself aanmoedig om net aan te hou. Aan te hou met baklei want daar was net sekere dinge wat jy vir jouself moet doen. En om my tyd met 9 sekondes te verbeter van my vorige poging was een van hulle.

Ek weet alte goed ek deel my oefensessies gereeld op hierdie blog. Ek doen dit so want daar is altyd ‘n les wat ek leer uit hierdie oefensessie. Met vanoggend se oefensessie, ten spyte van die koue weer en die dreigende reën, moes ek leer om net vas te byt en uit te hou, want ek het geweet die einde van hierdie sessie sal die moeite werd wees. Ek sal goed voel oor myself want in hierdie opset, ten spyte van die teenstand, het ek dit gemaak.

Dit is ook hoe die lewe werk. Elke mens kry teenstand in ‘n situasie waarin hulle hulself bevind. Dit sien ons almal as ‘n toets wat ons slaag of liederlik druip. As jy nie slaag nie, voel jy basies soos ‘n mislukking, reg? Ja, dit is reg. Ek voel ook as die situasies bo my vuurmaakplek is, voel ek soos ‘n mislukking. Ek voel vir ‘n tyd lank waardeloos dan onthou ek wie my grootgemaak het en hoekom ek nie so maklik moet opgee nie. Ek probeer net harder die volgende keer om.

Ek het die afgelope paar uur baie nagedink oor hoe ek die situasie verlede week hanteer het. Vanuit my oogpunt het ek basies niks verkeerd gesê op sosiale media nie. Dit was ongelukkig die teenstand wat ek gekry het en ek moes dit hanteer deur om te sê dat ek nog harder gaan baklei vir vroue en kinders wat nie vir hulself kan baklei nie. Ek het ook besef met hierdie situasie dat ek my lyn van geselskap moet verander want as so iets my negatief kan affekteer, is ek beter af daarsonder.

Ek het al teenstand gekry en moes dit hanteer soos wat ek gedink het die beste sal wees. Ek moes baie hard werk om van iets ‘n sukses te maak. Niks het te maklik op my skoot geval nie, en ek het dit so verkies want dit het my net laat harder werk om meer mense te bereik. Niks in die lewe kom baie maklik nie. Jy moet deur baie uitdagings gaan om van jou drome die moeite werd te maak. Om teenstand te kry, het ek al ‘n versameling van t-hemde in my klerekas.

Met hierdie inskrywing wou ek bittergraag dit op ‘n uiterse positiewe noot laat afeindig het, maar nie na wat ek gister gesien het nie. Wat ek gister gesien het, het my opeens laat besef dat ons as vroue op ons eie is en dat ons nie kan diè wat veronderstel is om ons te beskerm nie, vertrou nie. En met dit bedoel ek die Suid-Afrikaanse Polisie Diens. En ek het ook al daardie t-hemd(e) wanneer dit by daardie afdeling van die gereg kom.

Laat ek begin by Donderdag, 28 Mei 2020. Dit was vroegoggend dat iemand my met ‘n geweer gedreig het en my foon gevat het. Ek was wel getraumatiseer en ek was in skok gewees na daardie nagmerrie van ‘n insident, maar die eerste ding wat by my opgekom het was om na die naaste polisiestasie toe te gaan. Ek het gegaan om ‘n saak te maak, maar het ongelukkig nie baie ver gekom nie. Die polisie het daarop aangedring dat ek ‘n ITC nommer by my selfoon netwerk kry voordat ek ‘n saak by hulle kan maak. Ek kan ook by my naaste polisiestasie ‘n saak maak nadat ek die verwysings nommer gekry het van my selfoon netwerk.

En dit het ek wel gedoen. Ek was weg by Kaapstadse Polisiestasie sonder om ‘n saak te maak. My plan was om by my naaste polisiestasie toe te gaan. Ek het my verwysingsnommer van my selfoon netwerk ontvang en met dit probeer om ‘n saak te maak. Ek was gesê dat dit sou drie weke neem om ‘n saaknommer van die polisiediens te ontvang. Drie weke is ‘n baie lang tyd en baie meer tyd vir ‘n krimineel om nog ‘n onskuldige vrou moontlik nog seerder te maak. Hierdie klein stukkie nuus het my dadelik afgesit en my laat wonder het. Hoe het die Suid-Afrikaanse Polisie Diens ‘n rooftog wat my getraumiseerd gelos het, geheel en al opgefok?

Ek bring hierdie voorbeeld in want dit is ‘n feit wat ek nie heeltemaal gedeel het nie. Die regstelsel net daar het my liederlik gefaal en het my laat besef dat ek op my eie is. Dat elke vrou in Suid-Afrika op haar eie is. Ek het dit gister weereens gesien met ‘n hele paar videos op sosiale media toe die kastige betroubare polisie vroue mishandel het tydens ‘n optog teen geweld in Kaapstad. Die nuus het my uiters diep geskok.

Juis omdat ek onlangs die nuus gelees het dat ‘n vrou se lyk in ‘n wiele drom gevind is in Philippi, Kaapstad. Die media dekking was baie weinig gewees en kom ook na die nuus van ‘n 22-jarige vrou se moord om en by dieselfde area. Nomvuzo Atoll is vermoor en haar lyk is ook in ‘n wiele drom gevind. Beide vroue woon nie so baie ver van waar ek woon nie en dit alleen, gee my rede tot groot kommer Die moorde op ons vroue is ‘n baie groot kwessie en vroue wat in Kaapstad betoog het, het daardie punt aan Parliament probeer maak, die polisie se reaksie hierop was skokkend om die minste te sê.

Nomvuzo Atoll

Die videos op sosiale media oor die protes aksie teen geweld teen ons vroue dra die boodskap uit dat vrouens se lewens eintlik goedkoop is vir die regering. Dit tel nie as die polisie se antwoord op ons krete hand grenate is nie. Dit laat my ook wonder wat van die beloftes geword het wat gemaak was deur ons president, Cyril Ramaphosa tydens ‘n optog in Kaapstad verlede jaar? Moet ek hierdie inskrywing dalk gebruik om hom te herinner wat presies hy gesê het voor duisende vroue wat desperaat was vir oplossings vir die kwessies wat vroue raak elke dag?

Die polisie se optrede teenoor die vroue wat vreedsaam saamgekom het om hul regte uit te oefen vir die beskerming van vroue en kinders het my eintlik gewalg. Hierdie vroue verdien die bewondering dat hulle opgestaan het vir dit wat besig is om Suid-Afrika te verwoes. Vroue en kinders in Suid-Afrika verdien beter.

Die vroue wat in Kaapstad vanjaar saamgekom het verdien my respek. Hulle verdien die respek van baie Suid-Afrikaners want hulle het reën, koue en die kastige, beskermende polisiediens getrotseer om hulle kwessies voor Parliament neer te lê. Hierdie vroue het gewys om nie terug te staan nie.

Hierdie inskrywing dien ook dat ten spyte van die teenstand wat ek ontvang het, ek ook nie gaan terugstaan nie. My vertroue in die regstelsel is basies nul, maar ek gaan aanhou baklei en my steun wys aan die vroue wat baie moes trotseer om te kom waar hulle is. Hierdie vroue is my helde vir vrouemaand. Hulle is my helde, punt.

En as mense figuurlik gesproke grenate en traangas wil gebruik om hierdie inskrywing uitmekaar te ruk, kan hulle dit gerus doen. Onthou net wat ek genoem het van die t-hemp versameling in my klerekas. Ek is nog hier en ek gaan saam met hierdie vroue baklei om geweld teen ons vroue en kinders teen te staan. Hulle kan my gerus by die hekke van hel ontmoet eendag, ek was al daar om te kom waar ek is vandag. En ek gaan nou harder baklei as ooit. Dit is my grenate aan diè wat my teenstand gaan gee oor hierdie kwessie want genoeg is genoeg.

Ons moet almal ons deel doen om vroue en kinders die beste beskerming kry wat hulle verdien.  Vroue moet hard baklei en saamstaan met die teenstand wat ons ontvang van die samelewing, want ons almal sal sterker saam wees en as oorwinnaars uit die stryd tree.

Waardevol

Na ‘n paar maande het ek onlangs weer besluit om iets te doen waarvoor ek baie lief is. En dit is om te oefen en weer begin fiks word. Dit gee my rigting. Dit beteken baie vir my as mens om net fiks te word en iets vir myself te doen. Vir die eerste keer in maande voel dit asof my lewe weer op dreef is. Ek wil dit graag so behou vir die res van 2020 want die afgelope paar maande was geensins vir my maklik nie.

Daar word uitdagings oor jou pad gerol wat jy moet hanteer. Jy moet dit trotseer met die hoop dat dit die moeite werd sal wees. Elke liewe mens het sy eie persoonlike uitdagings wat hy of sy hanteer, of dit kry hom of haar net onder. Elke liewe mens gaan deur een of ander toets waarvan ons nie weet nie, want ons self gaan deur beproewinge wat ons òf sterker maak òf ons sink in die oseaan in sonder dat ons dit besef. Beproewinge is wat jou die mens maak wat jy vandag is.

Soos onlangs. Ek, met my wil om weer te begin fiks word, het aan die virtuele Parkrun deelgeneem. Ek was onlangs by Rondebosch Common in Kaapstad hiervoor op ‘n baie mooi, sonnige Saterdagoggend. Daar was baie mense gewees en die meerderheid van daardie mense het besluit om ‘n maklike roete te doen. By hierdie Common is daar ‘n klein bult wat jy moet uitklim as jy die roete anti-kloksgewys aanpak. Baie mense het die afwaartse keuse gemaak.

Ek het besluit om myself op ‘n positiewe manier uit te daag deur om daardie klein bult te loop. Dit was nie maklik nie en was ‘n uitdaging op sy eie gewees, siende dat ek onlangs begin oefen het. Ek het onfiks en onvoorbereid gevoel op ‘n tyd. Ek het gevoel dat 5km baie ver is om te vermag. Maar ek het nogtans aangehou en uitgehou. Ek het baklei. En was moeg. Ek was seer gewees. Ek het later myself moed ingepraat deur om te sê dat ek dit gaan maak. Dit is die basiese geheim om nie op te gee nie. Jy moet net aanhou baklei. Ek was in die minderheid in hierdie situasie, maar dit was die moeite werd.

Want om die maklike uitweg te kies is nie altyd die beste oplossing nie. Om dinge makliker te hê in die lewe is nooit ‘n oplossing nie. Dit laat jou nie baklei vir dit wat jy wil hê nie. Om die maklike uitweg te kies, bestaan nie in mense wat hard baklei vir dit waarin hulle glo nie. Want vir hulle is dit die moeite werd om voor te baklei. Soos met die virtuele parkrun waaraan ek onlangs deelgeneem het.

Dit is hoe die lewe maar is op ‘n skinkbord. Met elke tree wat jy neem in die langpad, ervaar jy uitdagings. Jy ervaar teenstand van mense wat nie tevrede is met jou keuses nie. Jy moet harder baklei om hulle nog meer rooi te laat sien, maar vir jou sal dit die moeite werd wees. Dit is hoe dinge vir my ook werk van tyd tot tyd. En dit is hoe dit onlangs was. Soos met die virtuele parkrun.

Hierdie inskrywing herinner my baie aan Bianca van 10 Things I hate About You. Ek weet dit is ‘n rolprent vir tieners maar volwasse vroue kan ook een waardevolle les hieruit leer. Bianca is ‘n gewilde student in ‘n hoërskool in Seattle. Die meisies bewonder haar, die seuns is verlief op haar. Sy is die jonger suster van Cat, iemand wat nie altyd so gewild is nie. Bianca se droom is om na die senior skooldans te gaan. Daar is ongelukkig net een klein probleem vir haar.

Haar Pa en haar suster. Haar pa laat dit nie toe dat sy met seuns moet uitgaan nie totdat sy klaar is met skool nie. Hy verander daardie reël dat sy mag wel uitgaan met seuns, mits haar suster met ‘n seun uitgaan. Haar suster is nie iemand wat volgens jongmense se verwagting leef nie en weier om toe te gee om haarself aan enige seun te verbind. Gelukkig vir Bianca ontmoet Cat iemand wat haar perfek pas.

Bianca gaan saam met Cameron, ‘n nuwe student na die skooldans toe. Joey, nog ‘n seun, is ook verlief is op Bianca besef dat hy daardie aand verloor het en raak beledigend teenoor Bianca, totdat Bianca besluit om die streep te trek om Joey bloedneus te slaan, wat gesorg het vir die ikoniese oomblik in die rolprent in my oogpunt.

Hierdie toneel alleen dien as inspirasie vir hierdie inskrywing want met hierdie toneel leer dit meisies en vroue om hul waardes te ken en op te staan vir hulself. Dit dien as inspirasie vir my oor wat ek volgende te sê gaan hê met hierdie inskrywing.

Met wat ek doen het ek geleer dat mense baie uiteenlopende reaksies gaan hê. Mense gaan verskeie menings hê en dit is vir jou as mens om dit te respekteer. Jy het daardie reg om anders te dink as jou medemens en jou medemens moet dit so aanvaar sonder om beledigend te raak oor jou beginsels en hoekom jy so dink. Ek moes van tyd tot tyd ook leer om die streep te trek as mense beledigend raak teenoor my. En dit is om net weg te stap uit ‘n onaangename situasie en nie reageer op daardie mens se beledigings nie.

Wat hieronder gebeur het was uiters onaangenaam vir my as mens. Dit het als op Twitter afgespeel wat nou daartoe gelei het dat ek hierdie inskrywing gaan gebruik om my gevoelens neer te pen en reguit te sê wat presies ek van hierdie situasie dink. Wat my gewalg het tot in my diepste is hoe die persoon gereageer het, iets wat ek wel genoem het op Twitter.

Screenshot_20200822-181853_Twitter

Vanuit my oogpunt sien ek absoluut niks fout met my reaksie op hierdie tweet nie. Dit is wat ek doen vir baie jare al. Ek baklei vir onskuldige kinders in hierdie fotos want hulle is die grootste onreg aangedoen wat die mensdom ooit aan hulle kon doen.

Ek baklei vir vroue en kinders want hulle het daardie ordentlike kans in die lewe verdien om iets te wees en moontlik ‘n verskil te maak. In my oë het vroue en kinders wat deur geweld geraak word, ‘n stem nodig en wat ek gesien het met hierdie walglike tweet, het hulle ons stemme meer as ooit nodig om te baklei teen geweld wat teenoor hulle gepleeg is en ook rassisme.

Ek sal sover gaan deur om te sê dat ek enige tyd my knie vir hulle buig want vroue en kinders wat vermoor was verdien daardie soort respek en nie die disrespek van mense wat verregse neigings het om hul punt te maak nie. Verstane genoeg was ek uiters ontsteld gewees. Ek was so naby gewees om hierdie persoon iets te sê wat ek geweet het ek sou berou het. Ek het met genade die persoon geblok van my Twitter profiel af. Ek het met genade genoeg selfbeheersing gehad om nie dadelik te reageer nie. Dit beteken ook nie dat ek hierdie persoon se beledigings moet vat nie. Daar is maniere om terug te baklei en dit is net een van hulle.

Ek skryf hierdie inskrywing vanuit ‘n soort kalmte wat my in besit geneem het. Hier kom die beste deel dan. Waar ek figuurlik gesproke hierdie persoon bloedneus sal slaan met woorde wat brand om gesê te word want ek weet vir my gaan dit die moeite werd wees. Om harder te baklei is wat die moeite werd is. So wat gaan kom sal veroorsaak dat hierdie persoon se ego ‘n yspak of twee nodig sal hê, so as enige iemand naby ‘n goedkoop kaffee bly, koop dit vir die persoon asseblief.

So hier is dit. Laat ek begin deur om hierdie persoon eintlik te bedank oor sy walglike optrede want dit het my presies gewys wat ek nie wil wees as ek baklei vir iets wat na aan my hart is nie. Die persoon wat ek nie wil wees nie is iemand wat sy frustrasies en rassisme uithaal op hierdie vier onskuldige kinders. En hierdie kinders is nie meer met ons om vir hulself te praat nie. En om beledigend te raak teenoor my met simple sosiale media hutstekens spreek boekdele oor die persoon.

Die persoon sal nou tien teen een dink dat ek hom geblok het, dat ek nie gaan terugbaklei nie. Ek het baie slegte nuus vir daardie persoon. Wat die persoon veroorsaak is dat ek nog harder gaan baklei vir kinders wat stemme nodig het en wat nie vir hulself kan baklei nie. Ek gaan beslis nog harder opstaan vir die vroue en kinders wat deur geweld geraak word. Ek gaan baklei vir hulle teen mense wat laer as slangbollie is om hul frustrasies op hulle uit te haal. Want as ek so moes optree soos wat hy het, sal ek nooit weer met daardie mond geëet het of my gesig in ‘n kerkgebou gewys het nie.

As daardie persoon by kans hierdie inskrywing gaan lees en nie daarvan hou dat ek vir hierdie onskuldige kinders baklei het nie, is dit sy probleem. Dit is net my streep wat ek trek met hierdie inskrywing. Dit is net ek wat opstaan vir hul waardigheid, asook my eie waardigheid. Want ek was nog al die tyd ordentlik met ander mense gewees oor hul sienings in die lewe, hoekom my beledig? As die persoon nie hiervan hou nie, koop maar liefs vir hom nog ‘n yspak vir sy ego en rassistiese skaduwee, want hy sal dit beslis nodig hê. Daardie kinders verdien baie beter as dit.

Met Bianca se houe in hierdie toneel en met my woorde wil ek net hierdie boodskap uitdra aan jong meisies daar buite dat jy dit nie hoef te vat nie. Jy kan die respek van mense wen met jou standvastigheid en jou sterk beginsels. Jy kan die respek van mense wen as jy opstaan vir jouself, soos wat ek het met hierdie inskrywing. Jy kan ‘n streep trek teen negatiewe aspekte soos rassisme, afknouerigheid, teistering en seksisme. Jy kan opstaan vir mense wat die nie self kan doen nie. Jy kan opstaan vir jouself.

Jy kan nog harder baklei as mense jou beledig. Jy kan nog sterker word met elke vloekwoord en met elke belediging. Jy baklei vir jou waardigheid. Jy baklei nog harder daarvoor. Behou dit. Ken dit. Staan op en sê nee vir rassisme, iets wat ek self moes doen onlangs en weer sal doen as daardie geleentheid oor my pad kom.

Want meisies, mense daarbuite sal jou sien as sagte teikens. Hulle sal dink dit is makliker om bo oor jou te loop. Hulle sal op jou neersien as jy jouself sterk uitspreek oor iets wat na aan jou hart is. Moenie toelaat dat mense bo-oor jou karakter loop nie. Baklei terug met waardigheid. Ken jou waardigheid want jy is waardevol. Stap die moeilike roete, al is jy in die minderheid.